Noord-Amerikaanse meregebied

Die state en provinsies wat in rooi gewys is het almal kuslyne op ten minste een van die Groot Mere.

Die Noord-Amerikaanse meregebied strek van die Beaufort-see in die noorde van Alaska tot aan die noordelike gedeelte van die Allegheny-gebergte in die noordooste van die VSA. Die talle groot en klein mere in die gebied het gedurende die laaste ystyd weens gletserwerking in die bestaande riviervalleie ontstaan. Nadat die ys begin terugtrek het, is die afwatering van die gebied egter deur gletserpuinhope in die suidwestelike dele en landys in die noordelike streke belemmer.

Dit het veroorsaak dal die water deur die vergrote valleie opgevang is en mere gevorm het. Die St. Laurens-seeweg in die grensgebied tussen die VSA en Kanada is in die enger sin van die woord die gedeelte van die rivier (stroomopwaarts van Montreal af tot by die Ontario-meer) waar 'n waterweg deur middel van sluise, damme, kanale en 'n kunsmatige meer vir skeepvaart gebou is. In 'n omvattender sin strek die St. Laurens-waterweg van St. Laurensbaai tot aan die Bowemeer, 'n afstand van ongeveer 3 700 km.

Die vyf Groot Mere in die oostelike grensgebied tussen Kanada en die VSA is van groot ekonomiese belang. Dit is die grootste varswaterstelsel ter wêreld wat terselfdertyd dien as verkeersweg om veral ystererts, steenkool en graan te vervoer. Die Groot Mere verskaf ook water aan die stede op die suidelike oewers, van Milwaukee (Wisconsin) af tot by Toronto (Ontario). Die visbedryf en ontspanningsgeriewe het egter weens waterbesoedeling aansienlik agteruitgegaan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search